Orania Veiligheidsdienste slaan toe in nagtelike operasie Vier verdagtes is gearresteer. Veiligheidsmagte het in ʼn multi-eenheidnagoperasie op misdadigers 40 kilometer buite Orania toegeslaan en vier persone arresteer. Die Veiligheidsdienste het met behulp van tegnologie, beplanning en goeie samewerking die vermeende misdadigers in die middel van hulle diefstal vasgetrek. Vier vermeende misdadigers het Dinsdagoggend 5 November die verrassing van hulle lewens gekry terwyl hulle besig was met ʼn kriminele aksie op ʼn plaas buite Orania. Die vier mans, wat Maandagaand op 'n plaas buite Orania afgelaai is om in te stap en die boer te besteel, was salig onbewus dat nommerplaatherkenningstegnologie van Stroomop Boerevereniging hulle voertuig identifiseer het, en al Orania se beheerkamer en veiligheidstrukture dus op bystand was. Hulle was ook onbewus daarvan dat Orania Veiligheidsgroepe (Taakspan, Reaksiespan en Reserwegroep) saam met die AfriForumspan en die SAPD reeds ʼn operasie beplan het om koperdiefstal te bekamp, omdat die boere in die omgewing geplaag word deur hierdie tipe misdadigers. Terwyl die vermeende misdadigers die plaas se infrastruktuur verniel het, en sowat 138kg se koperkabels steel, het die veiligheidselemente in die veld ontplooi en uitstaproetes beman. Omdat die plaas al ʼn geruime tyd onder hierdie tipe kriminaliteit deurloop, was ʼn operasie alreeds beplan, en ʼn “trailcam” nagkamera was al in die veld geplant. Goeie skakeling tussen die spanne en die beheerkameroperateur in Orania, het verseker dat daar strategies ontplooi kon word. Die manne het ʼn yskoue en lang nag in die veld spandeer, maar teen 05:00 Dinsdagoggend het die verdagte voertuig die vermeende misdadigers opgelaai. Die stoppergroepe is aktiveer en die spanne het toegeslaan. Vier arrestasies is gemaak. Sakke met koperkabels asook toerusting wat vir die tipe diefstal gebruik word, is agter op die bakkie gevind. Die misdadigers het 138kg se koperkabels in hulle besit gehad. Dit blyk dat daar al 24 sake by Hopetown se polisiestasie aanhangig gemaak is, en ʼn verdere 3 by Vanderkloof. Dit beteken hierdie bende het die area terroriseer en ongelooflike finansiële skade veroorsaak. Die skade lê nie net in kabelvervanging en herstelkoste nie. Dit beloop opsigself honderde duisende rande. Verder is daar ook die implikasies op oeste wat nie water kry as daar nie elektriese toevoer vir die pompe is nie. Orania Veiligheidsdienste opereer tans in ʼn radius van 50km rondom Orania. ʼn Veilige streek waarborg ʼn veilige Orania. Dit is vir Orania Veiligheidsdienste belangrik om goed met die Afriforum-protospan en ander rolspelers saam te werk. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig. Foto 1 Orania Veiligheidsgroepe (Taakspan, Reaksiespan en Reserwegroep) saam met die AfriForumspan en die SAPD het dié groep vasgetrek. Foto 2 Orania Veiligheidsdienste opereer tans in ʼn radius van 50km rondom Orania. BELANGRIK: Gebruik die skakel heel onder "View entire message" indien dit afsny as gevolg van lengte. Heel onder aan die nuusbrief is skakels na al ons sosiale media platforms. Orania Beweging voeg stem by duisende Afrikaners: StopBELA wetgewing! Die Orania Beweging en ander Orania instellings het op Dinsdag 5 November aan die #StopBela protesoptog deelgeneem. Daar was 10 000 deelnemers aan hierdie protes by die Voortrekkermonument. Die Orania Beweging het hierdie week twee geleenthede bygewoon om die BELA-wetgewing, spesifiek die klousules wat nog nie aanvaar is nie, teen te staan. Die BELA- wetgewing ontneem ouers van enige seggenskap in hulle skole, en oorhandig dit volledig aan die staat - met ʼn agenda van ‘transformasie’, ‘integrasie’ en verengelsing. Die eerste geleentheid was ʼn mediakonferensie waar die Orania Beweging en 40 ander Afrikanerorganisasies hulle standpunte teen BELA gestel het. Tydens hierdie geleentheid het Joost Strydom van die Orania Beweging die standpunt gehuldig dat Afrikanerkinders nie aan die ANC behoort om ʼn politieke speelbal van te maak nie. Orania en sy mense is lotsgebonde aan Afrikaners buite Orania, en hoewel die wetgewing nog nie ʼn invloed op die privaatskole in Orania het nie, is dit gerig op ons mense buite Orania. Ons weet ook dat die regering volgende hulle visier op privaatskole sal rig sodra hierdie eerste vernietigende fase geïmplementeer is. Ons weet ook dat die ANC Afrikaners wil ontsê van enige besluitnemingsmag oor ons kultuur, taal, kennisoordrag en identiteitsvorming. In die naam van “integrasie” wil die regering Afrikanerkultuur disintegreer. Die feit dat BELA in die konteks staan van ander ANC planne, soos nasionale gesondheidversekering en grondonteiening sonder vergoeding, stuur ook ʼn boodskap vir Afrikaners. Afrikanerkinders en hulle opvoeding behoort nie aan die ANC nie. Hulle behoort aan ʼn Hoër Gesag. Daarom staan die Orania Beweging hierdie wetgewingsklousules ten sterkste teen. Verder het die Orania Beweging aktief deelgeneem aan die protesaksie wat deur Solidariteit en AfriForum gereël is en by die Voortrekkermonument weggetrek het. Tydens hierdie protesoptog het 10 000 mense die program by die Voortrekkermonument bygewoon, en daarna na Vryheidspark gemars waar ʼn memorandum aan verteenwoordigers van die Regering van Nasionale Eenheid oorhandig is waar BELA ten sterkste kritiseer is. Volgens Strydom sal hulle organisasies wat hierdie wetgewing teenstaan aanhou ondersteun. Foto 1 Oraniërs het al die pad tot in Pretoria gereis om aan hierdie historiese optog deel te neem. Foto 2 Meer as 10 000 Afrikaners het van die Voortrekkermonument tot by Freedom Park gestap. Foto 3 Joost Strydom onderteken die memorandum namens die Orania Beweging. Orania se 2023 sensusdata bekendgemaak Orania Dorpsraad doen ʼn jaarlikse sensus om Orania se groei op verskillende vlakke te meet. Dit is krities belangrik om ʼn insig in Orania se groei, bottelnekke, uitdagings en geleenthede te hê. Die 2023 sensussyfers is pas deur die Orania Dorpsraad bekendgemaak en dit is vol opwindende statistiek! Hier is ʼn samevatting van Orania se sensussyfers, wat ʼn goeie oorsig te bied; nie net oor 2023 spesifiek nie, maar ook oor die afgelope vyf jaar in Orania. Bevolkingsgroei Orania se bevolkingsgroei het oor die afgelope vyf jaar elke jaar tussen 12 en 15% gegroei. In 2023 spesifiek was daar ʼn 12.8% groei in Orania se totale bevolking, wat die groter Orania op ʼn totaal van 2874 inwoners aan die einde van 2023 te staan gebring het. Dit word in ʼn totaal van 1140 huishoudings verteenwoordig. ʼn Prioriteit van instellings in Orania, en privaatontwikkelaars, is om die aantal beskikbare erwe in Orania in die volgende vyf jaar drasties te verhoog om so geleenthede vir vestiging te skep. Besighede in Orania In 2023 was daar meer as 300 geregistreerde ondernemings in Orania waarvan 248 aan die sensus deelgeneem het en waarvan 121 aangedui het dat hulle ʼn jaarlikse omset van meer as ф250 000.00 geniet (Die Ora (ф) is Orania se plaaslike ‘geldstelsel’ en ф1=R1). Daar is ʼn gemiddelde jaarlikse groei van 4,6% in geregistreerde besighede (met ʼn omset groter as 250K), vir ʼn totaal van 121 in Orania. Indien alle geregistreerde sakeondernemings in Orania getel word, is daar ʼn totaal van 300, wat beteken dat daar ʼn besigheid vir elke 9,5 persone in Orania is. Dit dui op ʼn kultuur van entrepreneurskapwese. Werksgeleenthede en lewenskoste Orania het as pioniersgemeenskap begin, maar die ekonomie groei en meer kompeterende salarisse word moontlik. Salarisse in Orania het oor die afgelope 5 jaar met 57% gegroei., 96,7% van besighede wat gereageer het, het aangedui dat hulle hul arbeidsmag sal uitbrei. Daarmee saam het 78,6% van sake-eienaars aangedui het dat hulle goeie of uitstekende verwagtinge vir die komende jaar het. Voedselinflasie in die 2023 tydperk was sowat 3,8% in Orania, vergeleke met die veel hoër 8,5% in SA. Eiendommswaarde Eiendom in Orania is steeds 'n uitstekende belegging, met die waarde van onbeboude gedienste erwe wat in vyf jaar met 75,9% gegroei het! Reeds beboude erwe, het in dieselfde tydperk met 62,5% gegroei. In 2023 is daar 182 bouaansoeke by die Orania Dorpsraad ingedien, vir 'n totale waarde van R142 415 660. Openbare kapitaalvorming Altesaam R621 010 831 se openbare kapitaalvorming het deur Orania se finansiële instellings plaasgevind. By verre die grootste gedeelte hiervan is deur OSK, Orania se eie bank. Die Gemiddelde groei oor die afgelope 5 jaar was 22%. Die voordele wat kapitaalvorming inhou is dat dit geleenthede skep wat die lewenstandaard van Oraniërs kan verhoog en verdere uitbreiding van die dorp moontlik maak. Onderwys Orania het twee skole (beide is gekombineerde hoër- en laerskole), twee voorskoolse sentrums en ʼn tersiêre opleidingsinstelling (Bo-Karoo Opleiding). Tussen hierdie instellings het primêre, sekondêre en tersiêre onderwys in 2023 met 9% gegroei vir 'n totaal van 777 studente in Orania. Klimaat Orania is in 2023 met 396,2 mm reën geseën. Die laagste temperatuur was -2,9°C terwyl die warmste dag ʼn kokende 40,7°C grade Celsius in die Karoo-son was! Spesiale dank aan Orania Dorpsraad vir hierdie sensusinligting! Foto 1 Ontwikkeling in Orania, die eerste sooi vir die nuwe aftreeoord word gespit. Foto 2 Orania CVO-skool se skoliere tydens die begin van die jaar. Foto 3 Infrastruktuur in Orania; die oprigting van ‘n nuwe toring. Eerste Orania-hond ontvang mikroskyfie Tegnologie sluit vir ons die toekoms oop in Orania. Daarom word ʼn mikroskyfie-projek, wat ons troeteldiere beveilig, deur die Orania Dorpsraad geïmplementeer. Troeteldiere wat mikroskyfies ontvang, word in ʼn databasis geregistreer. Só kan die eienaars van rondloperhonde en -katte maklik opgespoor en die diere weer veilig tuisgebring word. Die eerste Orania-hondjie, Biscuit, het op 5 November haar mikroskyfie ontvang. “Die vier maande oue Biscuit (of is dit dalk eerder "Beskuitjie" wanneer sy in ordentlike Boeregeselskap is?) het vandag die eerste lid van die Orania-dierepubliek geword om haar mikroskyfie te ontvang!” lui die kennisgewing op die Orania Dorpsraad se Facebook-blad. Biscuit en haar eienaars se details is ʼn diereregister opgeneem. Soos dit ‘n sterk Afrikaner-hondjie betaam, het Biscuit die skyfie dapper ontvang. Volgens Arno Lambrechts, Hoof: Orania Gemeenskapsdienste, is hierdie projek ʼn belangrik stap vorentoe vir organisering in Orania. “Dit is verpligtend vir eienaars wat meer as twee honde en twee katte op ʼn 1,000m² erf, of meer as drie honde en twee katte op ʼn erf groter as 1,000m² het, om vir hulle diere mikroskyfies te gee. Dit help ons nie net om die eienaars van rondloperdiere op te spoor nie, maar ook om ons dorp netjies en georganiseerd te hou.” Foto 1 Marita Pringle, Dieresorgbeampte by die Orania Dorpsraad, maak seker Biscuit bly gemaklik tydens die prosedure. Foto 2 Biscuit hee tevrede met ‘n nuwe skyfie huis toe. Paul Kruger-monument op Kerkplein vandaliseer Die Paul Kruger-monument in Pretoria, wat al vir honderde jare staan en as ʼn Afrikaner erfenisskat beskou word, is op 29 Oktober weereens gevandaliseer. Twee geweerkolwe, twee geweerlope en een geweerband is van die brons boerekrygers afgesaag. Ongelukkig is hierdie nie die eerste keer dat dié monument skade ly nie en tot dusver het die regering nog geen stappe wat tot daadwerklike oplossings lei, geneem nie. Paul Kruger se beeld is al groen geverf, rooi geverf – selfs al gebrand. Vandale en misdadigers op Afrikaner-erfenisterreine raak ongelukkig aan die orde van die dag. Orania bou ʼn identiese ewebeeld van die Kruger-beeld op ons eie stadsplein. In ʼn suiwer Afrikanergemeenskap sal hy veilig staan, beskerm deur mense wat sy geskiedenis en betekenis waardeer. Deur hierdie beeld op te rig, neem Orania die bewaring van Afrikaner-erfenis in eie hande. Orania skep nie net ʼn veilige omgewing vir Afrikaners as individue nie, maar vir die Afrikanerkultuur as geheel. In ʼn tyd waar historiese standbeelde kwesbaar is vir vandalisme, maak Orania ʼn sterk verklaring deur op te tree as ʼn bewaarder van Afrikaner-erfenis. Die oprigting en beskerming van ons eie monumente dien as erkenning van ons verlede en as dade van trots en selfbeskikking vir toekomstige geslagte. Daar is vir jou die geleentheid om nou reeds daardie dade te verrig. Klik op die knoppie hieronder en wees ʼn oprigter van Paul Kruger se standbeeld in Orania: Koop ‘n steen! Orania Sakekamer bou netwerke by die Sakeliga Bosberaad Die Orania Sakekamer het onlangs ʼn waardevolle geleentheid benut deur die Sakeliga Bosberaad in Pretoria by te woon, waar sakekamers en ondernemings van regoor die land byeengekom het. Hierdie byeenkoms het gefokus op die toenemende verval van munisipale dienste en die rol van sakekamers om plaaslike besigheidsbelange te beskerm en te bevorder. “Dit het vir ons 'n uitstekende platform geskep om met ander sakekamers oor gemeenskaplike uitdagings en oplossings te gesels en die unieke voordele wat Orania het, te deel,” sê Tony Correia, Voorsitter van Orania Sakekamer. Terwyl ander sakekamers se strewe om plaaslike besighede te ondersteun belemmer word deur swak munisipale dienste, kan die Orania Sakekamer voordeel trek uit ʼn effektiewe funksionerende munisipaliteit. In Orania het ons ʼn munisipaliteit wat basiese dienste uitstekend lewer. Dit dra aktief by tot 'n gunstige besigheidsomgewing. Hierdie voordelige werksomgewing bied ʼn uitstekende kans om ander sakekamers in te lig oor die waarde van ʼn effektiewe munisipale struktuur en die impak wat dit op plaaslike ekonomiese groei kan hê. Dit versterk ons vermoë om plaaslike besighede te laat groei, wat weer op ‘n groter skaal die hele gemeenskap bevoordeel. Tony vertel dat ander sakekamers in die Orania-model belanggestel het. “Gedurende die Bosberaad het ek tydens informele gesprekke hierdie werksmodel aan ander sakekamers bekendgestel. Hulle was veral geïnteresseerd in hoe 'n selfstandige munisipaliteit die ontwikkeling van plaaslike ondernemings kan bevorder en ʼn voorbeeld stel van hoe selfbestuur ekonomiese selfstandigheid ondersteun. Die Orania Sakekamer se positiewe ervaring met ʼn betroubare munisipaliteit bied dus waardevolle lesse vir sakekamers wat sukkel met munisipale verval en dit kan hulle inspireer om alternatiewe oplossings te oorweeg vir die uitdagings waarmee hulle te kampe het. Op hierdie manier bou die Orania Sakekamer nie net sy netwerk uit nie, maar dien dit ook as 'n voorbeeld van die voordele wat 'n goed funksionerende plaaslike bestuur vir besighede kan bring. Hierdie kruisbestuiwing van idees, praktiese kennis oor munisipale effektiwiteit en sakekamerstrategieë versterk nie net die posisie van die sakekamer nie, maar bied ook hoop en insig vir ander gemeenskappe wat streef na beter en meer selfstandige bestuursmodelle. Foto Verteenwoordigers van die Orania Sakekamer het Sakeliga se Bosberaad in Pretoria bygewoon. Plastiekherwinning in Orania genereer inkomste Dit is onlangs deur die Orania Dorpsraad bekendgemaak dat die herwinbare plastiek wat in Orania se vullisterrein gestort word, volledig verwerk is. Hierdie herwinbare plastiek, wat bestaan uit kategorie 1 en 2 plastiekmateriaal, word geskei, eenkant versamel, gebaal, en aan herwinningsmaatskappye verkoop. Behalwe vir die feit dat dit Orania se rommelspoor aansienlik verminder, genereer dit ook ʼn beduidende inkomste vir Orania. Die Orania Dorpsraad, wat verantwoordelik is vir die verwydering van vullis, waaronder herwin- en nie-herwinbare produkte, het met trots aangekondig dat die volledige verwerking van die herwinbare plastiekmateriaal die gevolg het dat alle nuwe toevoer van nuwe herwinbare plastiek onmiddellik verwerk en verkoop kan word. Herwinbare plastiek ingesamel vanaf die begin van 2023 tot op hede het 677 kilogram proppies opgelewer teen R3,50 per kg, wat 'n totale inkomste van R2 369,50 gegenereer het. Daar is ook 25,875 ton kategorie 1 en 2 plastiek gelewer teen 'n gemiddelde prys van R3,04 per kilogram, wat 'n totale inkomste van R78 672,50 ingebring het. “Ons wil dankie sê aan elke inwoner vir hul toewyding aan die sortering van die vullis,” ” sê Andre van Heerden, Hoof: Ingenieursdienste by die Orania Dorpsraad. “Die getroue bydrae tot die sortering van vullis vanuit elke huishouding maak werklik ’n verskil.” Foto 1 Die proppies van plastiekhouers word apart verwerk. Die Orania Dorpsraad versoek inwoners om dit vooraf te verwyder om tyd te bespaar. Foto 2 Herwinbareplastiek, wat bestaan uit kategorie 1 en 2 plastiekmateriaal, word geskei, eenkant versamel, gebaal, en aan herwinningsmaatskappye verkoop. Hou bene hou: Stap- en fietsrymarathon toets Oraniërs se uithouvermoë Orania CVO-skool het weereens ʼn suksesvolle 24-uur stap- en fietsrymarathon aangebied, wat gesorg het vir gesellige samesyn, spanbou, en seer spiere. Hierdie byeenkoms word jaarliks deur die CVO-skool se graad 10 leerlinge as een van hul fondsinsameling-geleenthede gereël. Fondse wat by hierdie geleentheid ingesamel word, word dan weer tydens hul graad 11 skooljaar aangewend. Verskeie projekte - onder andere die graad 12 leerlinge se matriekafskeid - word deur hulle aangebied. Die voorbereiding vir die marathon het fyn beplanning en groot werk vereis,. Die leerlinge het die dorp platgeloop, borge gevra, pryse vir die wenners bymekaargemaak, bane gereedgemaak en kosverkope behartig. Die marathon het om 12:00 op 25 Oktober afgeskop, van waar daar getrap en gestap is tot 12:00 op 26 Oktober. “Ons het ʼn hele klomp nuwe opwindende goed probeer inbring hierdie jaar,” sê Daniël Tomlinson, graad 10 leerling van Orania se CVO-skool. “Ons het ʼn klomp lekker pryse dié jaar wat aan ons tema gekoppel is, gehad. Ons het selfs ʼn prys vir die persoon wat die meeste geval het uitgegee!” 2024 se 24-uur stap- en fietsry marathon was ʼn geleentheid vir die hele gemeenskap, deelnemers sowel as toeskouers en ondersteuners. Ten spyte van die fisiese uitdagings, uithouvermoëns wat getoets is en lang ure se trap en stap, was dit weereens ʼn feestelike en besonderse gebeurtenis. Foto 1 Verskeie fietsryspanne het tydens 2024 se marathon kompeteer. Foto 2 Deelnemers van so jonk as graad 4 het vir die marathon ingeskryf. Foto 3 Spanmaats het tydens die 24-uur se trap beurte gemaak om hul span se wiele aan die rol te hou. Orania vakansieprogram verskaf hope pret in Desember! Die bekende vakansieprogram van die Orania Beweging is al ʼn Orania tradisie. Elke jaar word Desembermaand in Orania gevul met daaglikse aktiwiteite en geleenthede. Desember is jaarliks ʼn besige maand in Orania, aangesien Orania so baie toeriste in hierdie tyd ontvang. Die vakansieprogram is ʼn kreatiewe manier vir Oraniërs om nie net hulself besig te hou nie, maar ook almal wat Orania kom besoek! Wat hierdie program spesiaal maak, is dat dit nie net toeriste betrek nie, maar ook Orania se gemeenskap, wat 'n warm en verwelkomende atmosfeer skep. Dit bied besoekers 'n geleentheid om die gemeenskap beter te leer ken en deel te wees van die unieke kultuur van Orania. Die vakansieprogram word deur Oraniërs en Orania-instellings gevul – dit is dus totaal oorgelewer aan die inisiatief van ons gemeenskap. Oraniërs en plaaslike instellings dink aan kreatiewe aktiwiteite en geleenthede om aan te bied en bespreek hul datums op die Orania Beweging se webblad. As jy hierdie Desember ʼn prettige geleentheid het om aan te bied, moenie huiwer om op die knoppie hieronder te klik nie! Maak seker jy dien jou voorstel voor 22 November in. Besoekers kan uitsien na ʼn onvergeetlike Desembertyd in Orania en kan ons gemeenskap beslis oorweeg vir hierdie vakansie. Vakansieprogramregistrasie Foto Die vakansietydperk is ‘n opwindende tyd in Orania! Orania se aspirante skrywers woon toneelwerkswinkel by ʼn Opwindende geleentheid vir enige skryf- of toneelaanhanger is verlede naweek oor twee dae aangebied. Deelnemers is bemagtig met waardevolle inligting oor film, televisie, toneelspel en skryfkuns. Dié geleentheid is deur Dia van Staden, redakteur van Orania se plaaslike koerant, Koerania, moontlik gemaak. Die werkswinkel het deelnemers die geleentheid gegee om onder leiding van die begaafde dr Chris Vorster hul kennis op te skerp. Dr Chris Vorster is as akteur, lektor, skrywer en regisseur bekend vir sy kundigheid en ondervinding, en het in dié velde naam gemaak. Die werkswinkel se program het onder andere die deelnemers kans gegee om in diepte aan die volgende te raak: wat die werklike rol van ʼn regisseur is en hoe om daardie rol te vervul; hoe om variasie in jou rol as akteur of aktrise te ontdek; jou eie toneelstuk te skryf; en jou gawes in die onderskeie velde op te skerp, te ontwikkel en te ontdek.